Schedule a session
menu
Back
Chevron_left

Distance & grief

8 min

Die lewe van ʼn langafstandgrootouer

Saturday, October 11, 2025

Jou dag begin soos enige ander: jy kook water vir tee, voer die hond, vee die kombuis toonbank af. En dan, “ping!” ‘n Boodskap verskyn op jou selfoon (wat altyd byderhand is vandat hulle weg is): “Sy is pragtig! Weeg 3.2 kg. Gesond. Wens jy kon haar vashou. Ons vernoem haar na jou.” En net so, met een enkele boodskap, kantel jou wêreld.

Jy is nou ‘n ouma! 

Maar die belewenis is heeltemal anders as wat jy jouself voorgestel het. Daar is nie ‘n wagkamer gevul met familie en opgewonde fluister gesprekke nie, jy hoor nie haar eerste baba geluidjies nie. Daar is ook nie ‘n foto van jou wat die pasgebore mensie vir die eerste keer vashou nie. In plaas daarvan “ontmoet” jy haar deur jou selfoon se skerm, sonder al die “fanfare”. Sy is aan die ander kant van die wêreld gebore en jy kon nie daar wees nie.

Jy kyk weer en weer na die fotos op jou selfoon. Jy zoem in op haar klein gesiggie. Jou vinger streel sagkens oor die piekselbeeld van haar fyn neusie en geslote ogies. Jy word oorspoel met emosie: trots, hartseer, dankbaarheid, verlies en blydskap. En iewers tussenin is ook ’n onbeskryflike eensaamheid en verlange wat nie maklik verwoord kan word nie. “Dit kon so anders gewees het, dit mòès so anders gewees het,” dink jy hardop.

Dit is die leefwêreld van ‘n groeiende groep Suid-Afrikaanse grootouers wie se volwasse kinders geëmigreer het. 

Wanneer emigrasie ter sprake kom, word dit dikwels in terme van ekonomiese redes, werksgeleenthede, paspoorte en wisselkoerse bespreek. Die emosionele impak word selde aangeraak en veral nie dié van die ouers of grootouers wat sonder keuse deel word van ‘n transnasionale gesin nie. Met my nuutste kwalitatiewe navorsing poog ek om hierdie leemte aan te spreek deur spesifiek te fokus op hierdie unieke groep in die Suid-Afrikaanse gemeenskap.

Nuwe lewe oor grense heen

Die geboorte van ’n kleinkind is een van die mees gekoesterde mylpale in die meeste ouers se lewens. Grootouers beskou dit as vanselfsprekend dat hulle daar sal wees om die pasgebore baba te sus, raad te gee, te troos en met hul fisieke teenwoordigheid,  liefde en ondersteuning te bied.

Maar wanneer jou kleinkind op ’n ander kontinent gebore word, begin jou nuwe rol selde met ’n sagte aanraking. As langafstand-grootouer leer jy jou kleinkind ken deur ’n digitale venster, waar emoji’s en stem boodskappe die nuwe liefdestaal word. Hierdie verlies aan fisieke teenwoordigheid laat ‘n leemte wat nie maklik gevul kan word nie

Waardevolle oomblikke glip verby: die slaaptydstories wat jy nooit self kan voorlees terwyl jou kleinkind op jou skoot sit nie; die babakombersie wat jy brei, maar nooit self om die kleinding kan vou nie en die spesiale “oupa en ouma dae” wat vir beide grootouers en kleinkinders verlore raak. 

Die geboorteplek as keerpunt in grootouerskap

Uit my navorsing het duidelik geblyk dat die plek of land van geboorte van ‘n kleinkind ’n bepalende rol speel in hoe die grootouer-kleinkind-band gevorm en ervaar word. Van meet af rig dit die aard van betrokkenheid, of deur tasbare nabyheid òf hoofsaaklik deur middel van digitale kanale.

Wanneer ’n kleinkind in Suid-Afrika gebore word, is grootouers dikwels van die begin af nou betrokke. Hulle help met daaglikse versorging, vier mylpale saam en geniet spontane besoeke wat sterk emosionele bande smee. Soos Annelise, ’n ouma, dit verwoord: “Wanneer jou kleinkind hier gebore word, ken jy hom of haar van geboorte af, jy sien hulle elke dag, jy deel in alles.”

Wanneer hierdie kleinkinders egter later emigreer, ervaar grootouers die skeiding as besonder intens en pynlik. Dit word beleef as ‘n dubbele verlies: die aard van die verhouding met hulle kind verander terwyl die nabyheid aan die kleinkind verdwyn. So vertel Christa: “Ek het ‘n ongelooflik nou band gehad met my kleindogter gehad, sy was drie en ‘n half toe sy weg is. Dit klink nou vreeslik dramaties, maar ons is letterlik van mekaar weggeskeur by die lughawe … Maar nou ja ons het vir onsself voorgeneem ons sou op ‘n gereelde basis gaan kuier.”

In teenstelling hiermee ontvou ’n totaal ander ervaring wanneer kleinkinders in die buiteland gebore word. Die daarstelling van hierdie verhouding berus hoofsaaklik op digitale kommunikasie en sporadiese besoeke, wat telkens beïnvloed word deur logistieke, finansiële en visum verwante struikelblokke. Mia, beskryf haar rol so: “Ek dink ons rol is baie kleiner vir die kleinkinders in die buiteland as die kleinkinders in Suid-Afrika, omdat ons baie minder betrokke is by hulle aktiwiteite en gebeure.”

Alhoewel die afwagting op ’n nuwe kleinkind en die vreugde van die geboorte universeel is, toon my bevindinge dat geografiese afstand die ervaring daarvan ingrypend verander. In die transnasionale konteks kan die belewenis van grootouerskap aan die hand van drie fases beskryf word.

  • Voor die kleinkind gebore is

Met geografiese afstand begin die bekende rituele wat gesinne gewoonlik  anker en as riglyne dien om betekenis te gee aan belangrike oorgange, geleidelik vervaag. Kosbare mylpale soos die eerste glimlag, die eerste tand, die verjaardagkoek met een kersie bly kan dikwels nie in persoon saam gevier nie.

Verskille in tydsones maak dit vir grootouers soms onmoontlik om selfs tradisionele geleenthede soos ’n ooievaarstee by te woon. So deel Sophia, ’n langafstand-ouma: “Dit het my hart gebreek dat ek nie daar kon wees nie, en moes tevrede wees met fotos. Hier in Suid-Afrika word ek genooi na my vriende se kleinkinders se ooievaars tees – maar my eie kind s’n kan ek nie bywoon nie. Nou sit ek met trane in my oë by al die ander ooievaars tees.”

Hierdie tipe verlies is kompleks en nimmereindigend. “Jy kan nie jou hand op jou swanger dogter se maag plaas om die sagte fladdering van nuwe lewe te voel nie. Jy is veronderstel om deel te wees van hierdie kosbare begin, maar jy voel soos ‘n toeskouer op die kantlyn van jou eie lewensverhaa”l verduidelik Annette.

  • Die geboorte van die kleinkind

Vir Suid-Afrikaanse langafstand-grootouers is daar in wese net twee maniere om ’n band met ’n pasgebore kleinkind te vorm: digitale kommunikasie en sporadiese indien enige, kuiers. Beide kan egter maklik verhinder deur finansiële en praktiese struikelblokke.

Wanneer dit moontlik is, reis transnasionale grootouers na die buiteland, soms vir kort besoeke, ander kere vir langer periodes. Hierdie fisiese teenwoordigheid is waardevol vir die hele gesin. Vir die grootouers self bied dit die geleentheid om kleins af ’n emosionele verhouding met hul kleinkinders te vorm, terwyl die kleinkinders hulle ook leer ken. Daarbenewens kan grootouers praktiese ondersteuning aan die ouers bied wat bydra tot die versterking van die gesinsverhoudings.

Soos Pippa vertel: “Ek het die dag ná sy geboorte daar aangekom en kon vir drie maande help waar ek kon. Ek dink regtig hy onthou my stem..”

Vir baie ander grootouers is só ’n ervaring egter buite bereik. Digitale kommunikasie word dan die enigste lewenslyn, maar selfs dit kan deur tydsverskille bemoeilik word. Dit is nie altyd moontlik om ’n tyd te vind wanneer almal wakker en beskikbaar is nie. Die instandhouding van die band vra dus deeglike beplanning, volharding en baie geduld.

  • Die koestering van emosionele verbintenisse ná die geboorte

Kleinkinders kan nie betekenisvolle verhoudings met grootouers oor afstand vorm en instand hou sonder hul ouers se betrokkenheid nie. Ouers tree dikwels op as die kritieke skakel wat die verhouding  oor grense heen moontlik maak. Wanneer hulle daagliks video-oproepe fasiliteer of fotos deel, skep hulle nie net geleenthede vir kommunikasie nie, maar versterk hulle ook gesinsbande en laat grootouers deel voel van hul kleinkinders se wêreld.

Soos ’n dankbare ouma vertel: “My dogter verdien ’n medalje hiervoor. Elke oggend stuur sy foto’s en videos van Maxie op ons gesinsgroep; selfs my ouers, Maxie se oupagrootjies, word ingesluit. Ons is deel van sy wêreld – en dit is ’n geskenk!”

Tog kan digitale kontak nie die waarde van fisieke teenwoordigheid vervang nie. “Mens mis so baie,” het ‘n ouma gesê. “Ek wou so graag meer betrokke wees, maar omstandighede het dit nie toegelaat nie. Ek kan dit nie verander nie, so ek probeer die beste maak van wat ek het.” Sonder fisieke teenwoordigheid voel baie grootouers dat hul rol geleidelik vervaag. Hulle voel dikwels dat hulle stil-stil uit die kern van die gesinslewe verdwyn. Alhoewel digitale hulpmiddels afstand tot ‘n mate oorbrug, bied dit slegs ’n “illusie van intiemheid.”

Grootouers voel dikwels nie deel van hul kleinkinders se alledaagse lewens nie: Soos Sandra, ‘n ouma  dit verwoord: “… die kleinkinders word sonder ons groot. Dit is absoluut onhanteerbaar, dis so onregverdig, ek mis so baie, eintlik maar alles.”

Herdefiniëring van nabyheid

My bevindinge toon dat geografiese skeiding ’n ingrypende invloed het op die gehalte van grootouer-kleinkind-verhoudings, veral in die vormingsjare van ’n kind se lewe. Dit kan vergelyk word  met die deurblaai van ’n foto-album: sommige bladsye is gevul met oomblikke van vreugde en verbintenis, terwyl ander onvoltooid en selfs leeg bly. Hierdie oop ruimtes simboliseer die kosbare oomblikke wat verlore gaan - die ritme van die alledaagse lewe wat sonder grootouers ontvou. Dit is die hartseer van ver wees, juis wanneer teenwoordigheid die meeste saak maak.

Emigrasie ontwrig die dinamika van verhoudinge en dwing grootouers om hul rol binne die gesin te herdefinieer. Met onvoorwaardelike liefde en veerkragtigheid, skep hulle nuwe vorme van ‘virtuele teenwoordigheid’ om hierdie brose maar kosbare verbintenisse in stand te hou.

Share this post

Distance & grief

Blog

Related articles

Find more articles that delve into similar subjects and provide further information.

No items found.